Vurige liefde verbode liefde

Vir Jana Strydom is liefde op die kassie vol storm en drang. Maar in haar eie lewe is daar net plek vir één man.

Sy wag vir my by ’n koffiekroeg naby 7de Laan se ateljees. Anders as haar 7de Laan-karakter, Helena, lyk sy nie soos ’n vrou wat deur storm en drang – veral met mans – gaan nie. Hulle slaan vuis oor haar. In Erfsondes het ek Chris (Emmanuel Castis) en Stefan (Dirk Stoltz) kort-kort laat swaarde kruis oor Kate se liefde. As skrywer van die reeks wou ek speel met ’n liefdesdriehoek waarin my hoofkarakter (Kate) met die verkeerde man trou omdat sy so graag ’n familie wil hê. En dán ontmoet sy die regte man (Chris).

Ons begin praat oor die mans in 7de Laan. Helena moes onlangs kies tussen Jan-Hendrik en Marko. Maar dis niks teen die drama wat binnekort in die Laan gaan afspeel nie… Hoe voel haar eie man, Hannes, oor al die “ander” mans in haar lewe?

Jana lag: “Wanneer Hannes my soentonele sien, vra hy soms of hy nie ook maar ’n meisie kan nadertrek nie. Dan sê ek net: As dit jou werk is en jy word daarvoor betáál, dán mag jy.” Hannes Kruger is nou al 13 jaar lank die enigste man in haar lewe. Dié jeugliefde het begin blom toe sy in gr. 9 en hy in gr. 12 was. Aanvanklik het sy hom nie raakgesien nie. “Ek is maar deur die blare en ’n dromer,” skerts sy. “Ek het nie eens geweet hy is die onderhoofseun nie.” Tot sy hom op ’n dag tydens die oggendbyeenkoms opgemerk het. Daarna was dit bloot ’n sameloop van omstandighede. Jana het ’n ander kêrel na ’n braai vergesel waar Hannes ook was. Toe haar metgesel teen die einde van die aand te diep in die bottel gekyk het, het Hannes galant aangebied om haar huis toe te neem. Daarna was hulle elke dag saam.

“Ons weet self nie wanneer ons ‘amptelik’ begin uitgaan het nie.” Maar is so ’n lang verhouding ’n goeie ding? Moet ’n mens nie eers ’n bietjie in die bondel vry voor jy trou nie? Absoluut, sê sy eerlik. Dis hoekom sy ná matriek oorsee gaan reis en werk het. Hannes was toe reeds op universiteit. Hulle het geweet as hul verhouding die langafstandtoets kan slaag, is hulle vir mekaar beskore.

Nie dat dit maklik was nie. “Omdat bel so duur is, kommunikeer jy maar min en dan begin jy wonder wat doen die ander een. Dis wanneer jy liewer die verhouding moet verbreek.” Toe sy ná ’n jaar vir ’n kort vakansie teruggekom het, het hulle saam besluit om die verhouding te beëindig totdat sy oor nog ’n jaar finaal terugkom. As hulle werklik vir mekaar bedoel was, sou dit wel uitwerk.

Jana in 5 woorde: Uitsonderlik, Ongelooflik, Talentvol, Aktrise & Vrou – Emmanuel Castis

“Ek glo alles is deel van ’n Groter Plan. Jy kan skop en skree, maar wat moet gebeur, sal gebeur.” ’n Engelse rugbyspeler het in die tweede jaar in Londen by haar vlerkgesleep, maar Hannes het by haar bly spook. Die dag ná haar terugkeer van Engeland het sy hom gebel. Hulle het gaan koffie drink en sedertdien is hulle onafskeidbaar.

Wat van al die stomende skermliefdes waarin sy haar daagliks bevind? Trap ’n mens nie so dan en wan oor die tou nie? “Dis soms moeilik,” erken sy. “As jy teenoor ’n medespeler ’n liefdesverhaal moet vertolk en jy wil dit so lewensgetrou as moontlik doen, kan jy dalk in jou kop en verbeeldingswêreld grense oorsteek. Al is dit omdat jy so hard probeer om die skermverhouding te laat werk.”

Gelukkig is haar en Hannes se verhouding oop en eerlik. “Hy weet in my werk moet ek emosies deel van my maak. Die krag van die vertolking lê in die lewendig maak daarvan.” Dit help dat Hannes ’n voorligtingsielkundige is wat mense en hul emosies ken. Hy is ’n man wat kan praat oor hoe hy voel. “Eintlik is hy die een wat my geleer het hoe om my eie emosies te ontleed,”sê Jana.

Sy onthou hoe sy as jong meisie dikwels krapperig kon voel sonder om te weet waarom. Vandag weet sy daar is altyd ’n rede. “Al is dit net honderde klein jakkalsies wat jou jaag, dis nooit net niks nie. Hannes het my geleer hoe om dieper te kyk en te ontleed.” Dis ’n vaardigheid wat ’n ernstige aktrise goed te pas kom. Trouens, ek glo dít is wat Jana Strydom die formidabele aktrise maak wat sy vandag is. Sy ken en verstaan haar karakters en sy het op ’n jong ouderdom reeds ongelooflike emosionele diepte.

Ons begin praat oor Erfsondes en hoe sy amper te jonk was vir die rol. Die karakter was aanvanklik vir ’n 35-jarige aktrise geskryf. Ná Jana se uitmuntende oudisie het ek en die regisseur, Bobby Heaney, besluit om die karakter ’n paar jaar jonger te maak en ons het vir Jana die uitdaging gestel om iemand ’n paar jaar ouer te speel. Hoe het sy hieroor gevoel? Haar donkerbruin oë begin vonkel. “Daar is ek ’n bietjie soos my pa. Uitdagings maak die tier in my wakker.

Sy is verskriklik mooi, maar ek dink dis omdat sy van binne sprankel – Emmanuel oor Jana

“Natuurlik was ek bang ek gaan dalk teleurstel en daarom het ek baie hard voorberei. Ek het 4 kg verloor weens stres voordat ons begin skiet het! Hannes weet waardeur ek is in daardie tyd. Hy is die stil krag in my lewe, die een wat my laat glo ek kán dit doen. Nog lank voordat ek oor iets begin droom, sal hy vir my sê jy gaan nog eendag dit of dat. So het hy voorspel ek gaan nog op ’n tydskrifvoorblad wees, iets wat ek nooit sou kon dink nie.”

Maar haar loopbaan het ook laagtepunte gehad. Toe sy sowat drie jaar gelede weg is uit Egoli (as die sekretaresse Marcelle) kon sy sewe maande lank nie werk as aktrise kry nie. Sy het onder meer fotografiese modelwerk gedoen en moes as persoonlike assistent telefone beantwoord en gholfdae reël. Dis sulke tye dat jy nader of verder van ’n maat kan beweeg – en dis toe dat sy en Hannes besluit het om die knoop finaal deur te hak. Hulle is getroud net voor sy aan Erfsondes se eerste reeks begin skiet het.

Wat maak haar bang? “Verwerping.” Deur wie? Jana dink lank en diep. “Dis my grootste uitdaging,” erken sy. “Ek hou nie van verwerping deur enigiemand nie. En glo my, ek ken dit en dis nie lekker nie.” Sy wil nie verder daaroor praat nie.

“Maar ek sal jou sê wat my die kwaadste maak,” bied sy aan. As mense vir haar jok, word sy woedend en dit vat haar lank om so iemand weer te vertrou. En hoe voel sy oor verbode liefde? “’n Mens maak nie ander mense se gevoelens seer nie,” antwoord sy reguit, amper kwaai. “Dit het niks met getroud wees of nie getroud wees te doen nie. ’n Verhouding is ’n plek waarin ’n mens mekaar moet vertrou. Dis ’n heilige plek, en as jy jouself nie kan verbind nie, moet jy dit liewer los. ’n Mens stel nie iemand se gevoelens in gevaar nie.”

Jana probeer tevrede wees met die hede, maar wat werk betref, lê die tweede en derde reeks van Erfsondes voor. Sy begin in Julie daaraan skiet. Die eerste reeks word weer vanaf September uitgesaai en die tweede reeks vanaf Februarie volgende jaar.

Wat gaan van 7de Laan se Helena word terwyl Kate op SABC2 haar verskyning maak? Jana weet ongelukkig nie. Danie Odendaal, 7de Laan se vervaardiger, is baie geheimsinnig oor wat Helena se voorland is…

In die tweede reeks van Erfsondes is Chris Spencer en Kate getroud. Kykers brand om te sien wat met haar en Chris se tweeling gaan gebeur en wat Chris se suster, Sam, met die tweeling in die mou voer. Wat van kinders in haar eie lewe?

“Ek is bang om kinders te kry,” erken sy. Maar sy sien beslis daarna uit. Sy sou graag vir haar kinders wou gee wat sy en haar jonger sussie, Anju, van hul ma gekry het. “Sy’s ’n fantastiese ma en dis moeilik om in sulke groot voetspore te moet volg. Sê nou ek kan nie soos my ma en skoonma alles vir my kinders opoffer nie?” mymer sy. Maar sy sien kans daarvoor.

“Eintlik wil ek net gelukkig wees. My eerste wens is geluk. Of dit nou as aktrise, ma of vrou is.”