Emmanuel Castis soek in elke rol ’n uitdaging

 

Die akteur Emmanuel Castis is tans op die kassie te sien in twee uiteenlopende rolle, in twee verskillende TV-reekse: Scandal en Erfsondes 2.

Vir Scandal op e.tv is hy die sjarmante Cole, en in Erfsondes op SABC2 het kykers hom al leer ken as die selfversekerde Chris.

Die karakter van Cole, ’n musikant, beskryf hy as ’n swerwer, ’n reisiger en ’n baie sjarmante ou. “Hy is dol oor vroue,” vertel Castis laggend. “Hy kan homself net nie help nie.”

Geen wonder dus dat hy besig is om amok te saai onder die vroue van Scandal nie: Nie net gooi hy flikkers by die mooie Shakira (Dawn Matthews) nie, hy slaan ook die veel ouer Abigail (Mi¬chelle Maxwell) se voete onder haar uit.

Castis benadruk dat hy dit baie geniet om Cole te speel, “aangesien hy heeltemal anders is as enige rol wat ek voorheen vertolk het”.

Die swerwer Cole staan in skrille kontras teenoor sy rol van Chris Spencer in die drama Erfsondes 2.

Chris, daarenteen, is ’n baie verantwoordelike man. “Hy is grootgemaak volgens sekere beginsels, en daar is natuurlik ou geld betrokke. Cole en Chris is min of meer dieselfde ouderdom, maar waar Cole ’n vrye gees is, is Chris die ou wat sy familie bymekaar probeer hou, en baie hard probeer om vir sy nuwe gesin te sorg.”

Castis het baie waardering vir die diversiteit van die rolle wat na sy kant toe kom. “Toneelspel,” benadruk hy, “gaan daaroor om mense te ken, om hulle te verstaan, om in ’n karakter se kop te klim en hom te probeer deurgrond.

“Alle karakters, maak nie saak wie hulle is nie, sal iets in hul persoonlikheid hê waarmee jy as akteur kan identifiseer.”

Wanneer hy nuwe rolle oorweeg, soek Castis doelbewus ’n uitdaging. Een spesifieke rol wat hy baie graag wil vertolk, is dié van ’n “behoorlike bendelid”. Ook sal hy nie nee sê vir ’n rol as superheld nie. “Ek het pas Wolverine gekyk, en besluit ek is dol oor daardie soort rol – die superheld met ’n bietjie van ’n donker kant.”

Castis vertel wanneer hy ’n rol aanneem, het hy een groot dryfveer: “Om die karakter so geloofwaardig moontlik te maak, in elke aspek van sy persoonlikheid.”

Ook probeer hy seker maak dat een karakter nie ’n herhaling van ’n ander is nie. Dit is ’n les wat hy geleer het toe hy vroeër in sy loopbaan voor kinders opgetree het.

“Kinders is ongetwyfeld die beste kritici. Hulle sal sommer onmiddellik vir jou sê hulle glo nie jy is dié of dát nie. Dit is ’n goeie les wat ek geleer het – vir hulle is dít wat op die verhoog gebeur, die werklikheid.” As akteur het hy dus ’n gewigtige verantwoordelikheid.

Nie dat dit vir hom ’n swaar taak is nie – toneelspel is vir hom ’n passie.

Die beroep het natuurlik ook sy nadele – soos dat hy nou in die openbare oog leef. Hy is veral ’n bekende nadat hy verlede jaar as die wenner van Strictly Come Dancing uitgetree het, en dit is nie ongewoon dat mense hom op straat voorkeer nie.

Hierdie verlies aan privaatheid pla hom egter nie veel nie. “Dit is deel van die werk,” verduidelik hy. “Jy kan dit aanvaar of jy kan daarteen baklei, maar as jy laasgenoemde doen, gaan jou lewe ’n nagmerrie wees.”

’n Laaste vraag: Gaan Cole, wat sy brood aan albei kante botter met die twee vroue van Scandal, sy verdiende loon kry? Sy just desserts, soos die Engelse sê?

Castis lag lekker hieroor. “Laat ek dit so stel: Hy kry meer as net poeding!”

Jeanne Calitz, vir Die Burger