60 sekondes met Emmanuel Castis

Hy is terug in die tweede reeks van die gewilde Erfsondes op SABC2 en het ook onlangs by die sepie Scandal! op e.tv aangesluit as die jazz-musikant Cole. Charis Labuschagne het gaan hoor hoe dit met hom gaan.

Erfsondes doen baie goed. Hoekom?

Dis ’n kragtige storie wat goed geskryf is en groot talente soos Jana Strydom, Catriona Andrew, Ian Roberts en Sandra Prinsloo inspan. TV-dramas vertel gewoonlik eerlike stories oor gewone mense. Sepies doen dit ook, maar daar’s ’n mate van onwerklikheid omdat dit ook glansryk is. Daar was ’n gaping in die mark vir eerlike stories en Erfsondes het dit gevul.

Louise Carver reis baie vir haar sangloopbaan. Hoe werk jul verhouding?

Dit klink cliché, maar om gehalte-tyd saam deur te bring is die antwoord. Ons maak tyd in ons besige programme om mekaar te sien. Ons albei verstaan die vermaakbedryf. Dít maak dit makliker vir ons om dit te hanteer as ons nie saam kan wees nie.

Reis jy ooit saam met Louise as sy optree?

Ons woon mekaar se optredes by wanneer ons kan om mekaar te ondersteun.

Oordeel mense jou omdat jy ’n akteur is wat begin sing het?

Sommige mense het gesê ek ry op my akteur-profiel se rug. Ek weet nie hoekom dit noodwendig ’n slegte ding is nie. As ’n klereontwerper besluit om meubels te begin ontwerp, sê niemand ‘ag tog’ nie. As jy met integriteit optree en dít wat jy doen, ernstig opneem, is dit al wat saak maak.

Hou mense van jou musiek?

Die meeste mense se reaksie is ‘ek het nie geweet jy kan sing nie’. Mense het selfs gesê hulle is verras my musiek is so gesofistikeerd. As ek na die verkope van my CD (South of Nowhere) en die gehore se reaksie kyk as ek optree, dink ek mense ontvang my musiek goed. Die vervaardigers van Scandal! het selfs besluit ek kan my eie musiek in die sepie sing, só baie het hulle daarvan gehou!

People-tydskrif het jou al aangewys as een van SA se hottest hunks. Hoekom is jy hot?

Jy hét my met hierdie een. Ek dink nie eintlik daaraan nie. Kom ons vra jul lesers. Die beste antwoord kry gratis kaartjies vir een van my optredes.

Toekomsplanne?

Ek skryf musiek. Ek wil ’n tweede CD maak. Ek wil in flieks speel. En natuurlik Erfsondes III. Ons begin dit in Julie skiet.